Welkom by hierdie spesiale Aswoensdag-geleentheid vir 2021!
Om ‘n sinvolle belewenis van hierdie Aswoensdag te onderneem, wil ons vra dat jy (en jou gesin) die volgende gereed kry voordat jy met die res van die geleentheid voortgaan.
Benodighede:
● ‘n Stuk tou of wol of lint
● ‘n Bietjie as of grond en olie (meng die as/grond met die olie vooraf)
● ‘n Kers en vuurhoutjies of ‘n aansteker
● ‘n Bak met water (groot genoeg om albei jou hande gelyk in te plaas)
● Die nagmaalstekens (‘n stukkie brood en wyn of druiwesap)
Ter inleiding
Die veertig dae voor Paassondag is die oudste fees in die geskiedenis van die kerk. Ons noem dit “lydenstyd”, maar dit staan ook as “lent” bekend. Die woord “lent” beteken letterlik “om te rek”. Dit verwys na die son in die noordelike halfronde wat elke dag effens langer skyn en die seisoene wat van winter na lente verskuif. Die veertig dae sluit Sondae uit, omdat Sondae ons aan die opstanding van Jesus herinner en dit ‘n dag van feesviering is. Lydenstyd eindig met Heilige Donderdag (waar Jesus saam met sy dissipels die paasmaaltyd geniet en die nagmaal instel), Goeie Vrydag (die kruisiging van Jesus), Stil Saterdag (Jesus in die graf) en Opstandingsondag (Jesus het opgestaan!).
Lydenstyd is ‘n tyd van selfrefleksie en selfondersoek. Dit is ‘n tyd van agterlaat, van skuldbelydenis, ja, selfs van rou en treur. Dit is ‘n tyd van prysgee – sommige mense vas in hierdie tyd van iets soos koffie of sjokolade of sosiale media. Maar dit is ook meer as dit. Dit is die prysgee van ons selfgesentreerdheid, van ons gehegtheid aan goed wat ons steeds gevange hou en ‘n tyd van refleksie oor ons gebrokenheid as mense. Dit is ‘n tyd wat ons na onsself kyk deur die spieël van die kruis.
Hoekom is Lydenstyd veertig dae lank? Veertig dae simboliseer tye van dissipline, aanbidding en voorbereiding in die Bybel. Dink byvoorbeeld aan Noag en sy gesin wat vir veertig dae en nagte in die ark was, Moses wat veertig dae en nagte op die berg was voordat hy die Tien Gebooie ontvang het, Jona wat die stad Nineve gaan waarsku dat hulle na veertig dae verwoes sal word en hulle tot inkeer kom, en die belangrikste, Jesus wat vir veertig dae en nagte gevas en gebid het voordat Hy Sy bediening begin het. Daarom vas en bid ons in Lydenstyd ter voorbereiding van die hoogtepunt van Jesus se bediening – Sy kruisiging en opstanding.
In 2021 gedenk ons Aswoensdag en die begin van Lydenstyd tydens ‘n grendeltyd en ‘n pandemie. Hierdie afgelope jaar het unieke uitdagings aan elkeen van ons gestel. Ons elkeen beleef verskillende emosies en ervaar die uitdagings anders. Tog raak die pandemie en die grendeltyd ons elkeen
persoonlik. Miskien is daar vrae in ons gemoed – die hoekoms en waaroms wat ons teenoor God rig. Miskien is daar woede, angs, hartseer, pyn, rou en klag wat ons nodig het om voor die Here te bring. Om ons daarmee te help, gaan ons
verskeie tekste uit die Psalmboek gebruik.
Mag hierdie ervaring vir jou (en jou gesin) tot seën wees!
Kom ons word stil voor die Here.
Stilword gebed
Almagtige en liefdevolle Here
voor wie alle harte oop is,
aan wie alle begeertes bekend is
en vir wie ons niks geheim kan hou nie:
reinig ons harte en ons gedagtes
deur die werking van die Heilige Gees
sodat ons U op ‘n waardige manier kan aanbid
en ons aangeraak en verander kan word om in U voetstappe te volg hier aan die begin van Lydenstyd,
deur die genade van ons Here Jesus Christus.
Amen
Lament / Klag
Lees die volgende verse uit Psalm 38 rustig deur.
7. Ek is krom en inmekaar getrek,
ek loop die hele dag en treur,
8. Want my lyf brand van die koors
en daar is nie meer ‘n gesonde plek
aan my liggaam nie.
9. Ek is gedaan en heeltemal platgeslaan,
My hart jaag en ek brul van die pyn.
10. U weet waarna ek smag, Here, my
gesmeek is vir U geen geheim nie.
vriende ver van my af,
en my bure kom nie naby my nie.
11. My hart jaag, my krag het ingegee,
ek kan nie eers meer sien nie.
22. Moet my tog nie verlaat nie, Here,
My God, moenie ver van my af bly nie!
Wat let jy op oor die trant van hierdie woorde?
Hierdie psalm is ‘n lamentpsalm of klaagpsalm.
Wat beteken dit om te lament of te kla in die Bybelse sin daarvan? Om te lament of te kla vra die moed om jou vrese en weerloosheid te noem, om dit wat rondom ons verkeerd gaan te ontmasker en teenoor God uit te roep wat dit aan ons doen. Om te lament is ‘n manier waarop ‘n mens jou lyding en pyn uitdruk, wat ookal die oorsaak daarvan is. Dit is ‘n vorm van protes, om weerstand te bied teen dit wat met ons gebeur, dit wat vir ons trauma, vrees, skade, ongeregtigheid, hartseer en bitterheid bring. Dit is om te vra “hoekom ek” en ook “hoekom nie ek nie?” Die teenwoordigheid van klaagpsalms en liedere in die Bybel wil vir ons vertel dat God dit van ons wil hoor.
Ons sê soms vir mekaar as ons mekaar groet: “Dit gaan goed, dit help nie om te kla nie.” Is dit regtig waar wanneer dit by ons verhouding met die Here kom?
Wat is daar waaroor jy teenoor die Here wil kla, veral in hierdie Covid-19 tyd?
Aksie:
Neem die stuk tou of wol of lint en maak vir elke saak wat jy voor die Here bring, alles waaroor jy teenoor die Here wil kla, ‘n knoop in die stuk tou.
Here, dankie dat ons teenoor U kan kla en treur oor ons diepste pyn en hartseer.
Dankie dat U ons hoor. Amen
Skuldbelydenis
Lees die volgende verse uit Psalm 38 .
5. Ja, my ongeregtighede het my
oorweldig soos ‘n las wat vir my te swaar is.
6. My wonde stink en sweer, en dít deur my eie dwaasheid.
18. Ek kan dit byna nie meer uithou nie,
ek is nooit sonder pyn nie.
19. Ek bely my ongeregtigheid, my sonde kwel my.
Daar is soveel in die wêreld en in ons lewens wat vir ons pyn veroorsaak waaroor ons geen beheer het nie. Mense doen slegte dinge aan mekaar en daar gebeur goed met ons wat ons nie kan keer nie. Die Here weet dit.
Ons moet egter ook erken dat die pyn en leed in ons lewens dikwels ook plaasvind vanweë ons eie keuses en sonde. In Lydenstyd dink ons veral daaroor na en kan ons teenoor God daaroor kla en dit ook bely.
Wat is daar wat jy voor die Here wil bely?
Aksie:
Neem die as of grond wat jy vooraf met olie gemeng het en smeer dit in die vorm van ‘n kruis op jou hand of jou voorkop. As jy saam met jou gesin hierdie geleentheid
meemaak, kan julle dit vir mekaar doen. Die as is ‘n teken van ons gebrokenheid en ons sondigheid. Doen dit terwyl jy dink aan dit wat jy voor die Here wil bely.
Here, ons bely dat ons dikwels onsself en ander deur ons sonde en
gebrokenheid verwond. U sien dit. En dit maak U hartseer. Ons besef dit, Here.
Amen
Neem ‘n oomblik om jou gedagtes by mekaar te kry.
Lees hierdie gedeelte uit Psalm 4:
2. O God wat aan my reg verskaf,
antwoord my as ek roep.
Toe ek in die nood was,
het U my bevry.
Wees my ook nou genadig
en hoor my gebed!
3. Hoe lank gaan julle my eer nog
skend, mense,
gaan julle valsheid liefhê
en voorkeur gee aan leuens?
4. Besef tog dat die Here wonders
gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is.
Die Here hoor as ek na Hom roep.
5. As jy ontsteld raak, moenie sondig nie;
dink in stilte daaroor na as jy gaan lê,
en laat dit daarby!
Wat hoor jy, in stilte, in hierdie teksgedeelte?
Dit is belangrik dat ons in stilte by die Here stil word, in stilte dink aan ons oortredings en ook aan diegene wat teen ons oortree.
Hoe voel jy, wat doen en dink jy, as jy voel dat God stilgeraak het? Dat God jou nie hoor nie, nie jou klag en rou en stilte raaksien nie, as jy dink dat God nie vergewe nie, dat jou sonde te groot is?
Psalm 22:2-3 sê:
My God, my God, waarom het U my
verlaat
en bly u ver as ek om hulp roep?
My God, ek roep bedags en U
antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
Druk vir ‘n oomblik jou ore en jou oë toe. Hoe voel dit om niks te hoor nie of om niks te sien nie? Is dit soms jou ervaring met God, dat jy roep en God nie antwoord nie?
Jesus het die eerste paar woorde van hierdie psalm aan die kruis gebid toe God die Vader se teenwoordigheid hom verlaat het. Dit gedenk ons in Lydenstyd: Jesus was
alleen en God was stil, sodat ons dit nooit sal beleef nie.
Aksie:
Dink in stilte hieroor na terwyl jy ‘n kers aansteek om God se teenwoordigheid by jou, hier en nou, te bevestig.
Here, U is hier. By my. Nader as my eie vel. Help my om dit te besef en te glo, selfs al glo ek dat my sonde of pyn te groot is.
Amen
Vergifnis
Christus se lyding, alleenheid, swaarkry, belewenis van God-verlate-wees het vir ons lewe, samehorigheid, verligting, versoening, die teenwoordigheid van God BINNE ons en vergifnis vir ons oortredings gebring.
Psalm 130:1-4 verseker ons:
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
As U ons sondes in aanmerking sou
neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
Met watter gewaarwording laat dit jou? Wat sê hierdie Psalm vir jou?
Binne-in en te midde van ‘n pandemie, siektes, dood, pyn, lyding en alles wat ons in ons menslike bestaan beleef, staan die een met wonde aan Sy hande, sy sy en sy voete.
Uit die dieptes roep ons en God skenk vergifnis, selfs al verdien ons dit nie.
Aksie:
Plaas albei jou hande met jou palms na onder in die bak water. Staan vir ‘n oomblik so en voel die water wat jou hande omvou. Draai jou hande om dat jou palms na bo wys,
bring dit uit die bak met water as ‘n teken van God se vergifnis vir jou.
Here Jesus, dankie vir die versoening en vergifnis wat U bewerkstellig het.
Help ons om dit ook teenoor ander te lewe.
Amen
Genade
Midde in ons klag en seer wat ons na die Here bring,
midde in God wat ons oortredings aanskou, God wat soms stil is, maar tog aan ons vergifnis en versoening bied,
skenk hierdie Here aan ons Sy oorvloedige genade.
Ons Here Jesus het dit moontlik gemaak om ten spyte van ‘n pandemie en ‘n grendeltyd en honderde ander dinge wat ons mag kwel en laat struikel, in God se onverdiende genade te mag bestaan en te leef.
Dit lees ons in Psalm 84:12-13
Die Here God is ons krag en ons
beskerming,
die Here gee genade en eer,
Hy weerhou die goeie nie van dié wat
reg lewe nie.
Here, Almagtige,
dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!
Aksie:
Plaas die tekens van die nagmaal voor jou (julle).
Luister na die instelling van die nagmaalstekens op die video of lees 1 Korintiërs 11:23-25 waar Paulus vertel hoe Jesus die nagmaal ingestel het.
Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy
God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.
Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”
Julle kan as gesin vir mekaar die nagmaal bedien.
Neem dit as tekens van God se genade vir jou, veral in hierdie Covid-19 tyd.
Dink ook aan en bid vir jou mede broers en susters in Christus waar ons vandag saam, maar tog apart die nagmaal vier.
Lees die laaste verse van Psalm 4:
7. Daar is baie wat sê:
“Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?”
Wees ons tog weer goedgesind, Here,
help ons!
8. U het my reeds groter vreugde laat
belewe as wat daar is by mense
wat koring en wyn in oorvloed het.
9. Nou sal ek onbesorg gaan lê
en dadelik aan die slaap raak,
want, Here, U alleen laat my veilig
woon.
Wat sê hierdie verse vir jou oor God se genade?
Here Jesus, dankie vir die genade wat U vrylik vir ons gee. Dankie dat ons ons sondaarshande kan uitsteek en dit kan ontvang. Dankie dat U ons voed met hierdie tekens. Help ons om in dankbaarheid U na te volg en die Goeie Nuus te
verkondig.
Amen
Liewe mede broer of suster in Christus,
Mag hierdie Lydenstyd jou verhouding met die Here suiwer en vernuwe, verdiep en versterk.
Leef bewustelik en laat hierdie tyd nie by jou verby gaan nie. Weet dat Christus, in Sy lyding, met ons meeleef.
Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!