WAT ’N VREEMDE WESE – ’N GESPREK MET LEONARD SWEET

Nuwe stemme

Hierdie is ‘n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Church Report Magazine het Leonard Sweet gelys as een van die vyftig mees invloedryke Christene in die VSA. Hy is onder andere ’n professor in Kerkgeskiedenis met meer as tweehonderd PhD-studen­te wat tans onder hom studeer by verskillende universiteite in die VSA en elders. Om alles te kroon het hy tot op hede al meer as 60 boeke geskryf. Op sy besoek aan Suid-Afrika, op uitnodiging van ekerk, het hy onder andere oor temas in sy jongste boek, Rings of fire, gepraat.

Ek het die voorreg gehad om een aand saam met hom en Stephan Joubert te kuier by Stephan se huis in Kemptonpark.

Stephan vertel hoe hy een keer in Leonard se New York woonstel was en gevra het om sy slaapkamer te sien. “Ek wou sien of daar ’n bed is,” verduidelik Stephan, “want ek het gehoor dat hy amper nooit slaap as hy in New York is nie.”

Leonard het hom die “slaapkamer” gewys, en daar was sowaar geen bed nie.

“Nou hoe slaap jy dan?” vra ek.

“Oh, I just work until I fall asleep in the chair,” sê Leonard en voeg by dat hy eendag vir God wil vra waarom die mens dan soveel moes slaap as die lewe dan so kort is?

Dis moeilik om Leonard Sweet teolo­gies te etiketteer. Hy is ’n vreemde wese: evangelies, maar met ’n beson­derse passie vir sosiale geregtigheid, ’n akademikus, al klink dit soms of hy meer tuis sou wees tussen die mistici. Dit is ook moeilik om hom polities te plaas (ek het hom heelwat uitgevra oor die gesprekke in die VSA-kerke in die tyd van Trump).

Hy is nie heeltemal links nie, ook nie heeltemal regs nie en alles behalwe in die middel. Dis asof hy ’n voorstander is van ’n totaal ander rigting as die tipie­se links/regs ekstreme in die VSA politiek, ’n rigting wat ’n mens sou kon noem die “nie links nie, nie regs nie, nie middel nie, maar dieper alternatief”.

Leonard vertel hoe die kerk in die VSA vandag meer polities gepolariseer is as ooit. Daar is kerke waar jy nie ’n enkele Trump-ondersteuner sal kry nie, en ander kerke waar jy nie ’n enkele persoon sal kry wat teen Trump is nie. Hy sê dit is egter ’n kenmerk van die digitale tydperk waarin ons ons tans be­vind, dat die middelgrond wegval. Daar is net ekstreme en ’n niksseggende middel, geen gemene grond meer nie.

Maar juis hierin het die kerk ’n groot roeping, sê Sweet. Ons sal moet leer om mét mense in albei ekstreme uiterstes te praat, en nie net óór hulle nie.

As ’n mens ’n brug wil bou begin jy nie in die middel nie, sê hy. Jy begin op die buitenste punte en dan werk jy binne toe.

Sy jongste boek gaan oor wat hy noem “vulkaniese tendense”. Tendense wat ’n enorme effek op die samelewing in die toekoms gaan hê.

Hy skryf byvoorbeeld dat kunsmatige intelligensie (artificial intelligence) waarskynlik dieselfde effek op die mens­dom gaan hê as die ontdekking van vuur. Dit gaan alles omkeer. Die vraag is hoe moet die kerk haarself posisioneer in so ’n wêreld?

Maar ons moenie bang wees vir ver­andering nie, sê hy, ons moet eerder geen-verandering vrees: “What is the difference between a living thing and a dead thing? In the medical world, a clinical definition of death is a body that does not change. Change is life. Stagnation is death. If you don’t change, you die. It’s that simple. It’s that scary.”

Sy voorspelling is dat die Christendom se populariteit baie sterk gaan afneem, en dat die wêreld nie net besig is om al meer nie-Christelik te word nie, maar al meer anti-Christelik. Die kerk sal weer moet leer om van onder af ’n verskil te maak, sê hy. “We will have to rediscover the Jesus principle that our power lies not in our strength but in our weakness.”

Leonard Sweet voel dat die kerk in ’n identiteitskrisis verkeer juis omdat Jesus al meer in die agtergrond in geskuif word. Hy noem die toestand, JDD: Jesus Deficit Disorder. Alles trek skeef as jy dit doen.

Hy sê Jesus moet ook nie bloot net die kern wees nie, Hy moet alles wees, en oral nuut ontdek word, veral ook op wat Sweet noem “the fringes”. Jesus was altyd tussen die uitgeworpenes op die kantlyn van die samelewing, selfs aan die kruis was Hy saam met sulke mense. As ons Hom wil herontdek sal ons ook daar moet begin soek.

Ons het gesels oor hoe dikwels kerkmense vandag geneig is om selfs die Bybel in die plek van Jesus te sit. Die pro­bleem is natuurlik dat elke ketter sy letter het! As jy dit doen kan jy enigiets regverdig, selfs om iemand te stenig of om vroue minderwaardig te hanteer. Maar nie as Jesus die fokus is nie.

Die idee met die Bybel was nooit dat ons op die Bybel sou fokus nie, sê Sweet. Die heilige Skrif is ’n boodskapper wat ons wil help om op Jesus te fokus. Dis ’n probleem wanneer jy verlief raak op die boodskapper en nie die een oor wie die boodskap gaan nie.

Leonard vertel dat hy altyd ongemaklik is met gemeentes se mooi geformuleerde visies. Waarom sê hulle nie net hulle visie is Jesus nie? Dis mos genoeg visie vir ’n leeftyd.

https://www.podbean.com/eu/pb-2pgyr-d573ff

Scroll to top