PAS OP VIR POSDUIFSINDROOM

Hierdie is ‘n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Pas op vir posduifsindroom. So waarsku ’n bekende ekonoom oor die gevolge van die inperking te midde van die Covid-19-pandemie. Posduiwe moet mos daagliks uit hulle hok gelaat word sodat hulle kan vlieg. Dit is waarvoor hulle gemaak is. As hulle lank genoeg op hok gehou word, bly hulle in die hok, selfs al word die hek oopgemaak. Dit kan maklik met mense ook gebeur – dat ons so aan die ingehoktheid gewoond raak dat ons later nie wil uit as die hek oopgemaak word nie. Dit kan selfs met die kerk ook gebeur!

Die geskiedenis van die Middeleeue vertel die hartseer verhaal van ’n kerk wat haarself in kloosters ingeperk het. Agter die hoë mure is vroomheid en teo­logie met groot toewyding beoefen, maar in die strate was dit chaos. Sonder die Bybel en uitgelewer aan teologiese dwalinge soos die aflaatstelsel was gewone lidmate bloot toeskouers van ’n godsdiensspel wat in katedrale afgespeel het. Edel uitreike na ver plekke was daar wel. Die somber verhale van die kruistogte getuig daarvan. Plaaslik het die kerk egter min waarde tot die lewe van lidmate toegevoeg. Dit het ’n Martin Luther gekos om die kerk opnuut daaraan te herinner dat sy die liggaam van Christus is wat op die Woord en onderlinge verhoudings tussen mense gebou is.

Hierdie is ’n les uit die geskiedenis wat elke gemeente van die NG Kerk te midde van die huidige pandemie ter harte moet neem. Op 26 Mei het president Ramaphosa spreekwoordelik die deur van die hok oopgemaak. Die vraag is hoeveel posduiwe knus en tevrede in die hok bly sit omdat hulle daar met behulp van tegnologie bedien word. “Met koffie en beskuit in die hand kyk ons nou Sondae in die gemak van ons huis kerk – dit kom nie beter as dit nie,” sê ’n getroue lidmaat onlangs.

Die vraag is of ons nie besig is om onsself met tegnologie opnuut af te sonder nie. Natuurlik word die Woord deur die wonder van tegnologie tot letterlik aan die uiterstes van die aarde verkondig en kos en klere word wyd uitgedeel. Verhoudings en vriendskappe kan egter nie oor Zoom, Teams, Hangouts, Facebook en YouTube gebou word nie. Eredienste met Woordverkondi­ging en ander liturgiese momente kan nie in afsondering in ’n sitkamer plaasvind nie. Hoe innoverend ’n deurry-nagmaal ook al mag klink, is dit teologies eintlik niks anders as ’n ander vorm van die Katolieke mis nie.

Miskien is dit nodig om weer ’n slag mooi te dink oor wat die wese van ge­reformeerde kerkwees in ’n tyd soos hier­die beteken. Mag ons nooit soos posduiwe knus en warm in ’n tegnologiese hok bly sit nie!

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Scroll to top