Die Keeling-meeting van CO2 – belangrik, of nie? Mariëtte Ekologie, Nuus

Koolstofdioksied (CO2) is een van die gasse in die atmosfeer wat ‘n kweekhuisgas genoem word. Dit beteken dat dit een van die gasse is wat verhoed dat die son se hitte uit die aarde se atmosfeer ontsnap en dan daartoe bydra dat die aarde se temperatuur verhoog. Koolstofdioksied is nie sleg vir die aarde nie. Inteendeel dit is ‘n belangrike stof wat saam met suurstof (en ander stowwe) die siklus van lewe op aarde dien en in stand hou.

Plante vervaardig suurstof deur fotosintese. Mense en diere neem die suurstof op as hulle lug inasem en gebruik dan die suurstof as energie. In dié proses word koolstofdioksied gevorm en weer in die atmosfeer terug uitgeasem. En plante (als wat groen is) neem dan weer die koolstofdioksied as bron van energie vir hulle op. En so is daar ‘n wonderlike interafhanklikheid en -versorging deur die Skepper ingebou in die verskeidenheid vorme van lewe op aarde. Koolstofdioksied is dus noodsaaklik vir lewe. Omdat dit egter ‘n kweekhuisgas is, is dit gevaarlik as die konsentrasie van CO2 in die lug te hoog styg.

In Maart 1958 het ‘n Amerikaanse wetenskaplike van die Scripps Instituut vir Oseanografie, Charles David Keeling, begin om die CO2-vlakke in die atmosfeer van die aarde op ‘n deurlopende en konstante basis te meet. Een van die waarnemings wat hy gemaak het (en wat tot vandag toe deur voortgesette metings bevestig word) is dat die CO2-vlakke in die atmosfeer ‘n konstante opwaartse tendens het. Hierdie opwaartse tendens word die Keeling-kurwe genoem (vgl die meegaande grafiek). Die konsentrasie van CO2 word uitgedruk as deeltjies per miljoen volume (dpmv). Toe Keeling met metings in 1958 begin het, was die deeltjies CO2 per miljoen deeltjies in die lug 313. Op 9 Mei 2013 het die konsentrasie van CO2 die 400 dpmv verbygesteek. In November 2019 was hierdie meting 412 dpmv. Vanaf 1958 tot 2019 het die konsentraise van CO2 in die lug dus met 99 deeltjies per miljoen verhoog. En daar word gereken dat die CO2-vlakke in die atmosfeer van die aarde ongeveer 2 tot 4 miljoen jaar gelede laas so hoog was soos nou.

Wetenskaplikes het hierdie metings vergelyk met ander metings van die atmosfeer van die aarde wat aantoon hoe hoog die konsentrasie van CO2 in die verlede was. Daaruit kon hulle vasstel dat daar ‘n drastiese toename in die teenwoordigheid van CO2 in die atmosfeer van die aarde was sedert die begin van die 19de eeu. Die enigste verklaring wat hulle hiervoor kon kry, was die eerste industriële revolusie wat gedateer word tussen 1760 en 1840. Dit was onder andere die tyd van die ontwikkeling van brandstof en die opwekking van elektrisiteit uit fossielbronne en die gebruik van steenkool vir die aandrywing van stoomtreine en -skepe en die binnebrandenjin wat o.a. ons motors aandryf. En wanneer ons fossielbronne soos steenkool en olie verbrand, verhoog ons die vrystelling van CO2 in die aarde se atmosfeer. Vandaar die gevolgtrekking dat dit die mens is wat sedert die eerste industriële revolusie tot vandag toe die drastiese verhoging in CO2 in die aarde se atmosfeer veroorsaak het. En daarom is dit die mens wat veral verantwoordelik is vir die verhoging van die aarde se temperatuur wat klimaatsverandering en ook die dreigende sesde massa-uitsterwing van spesies op die aarde tot gevolg sal hê.

Ongeveer 97% van die wêreld se natuurwetenskaplikes stem saam met hierdie bevindinge. Daar is egter 3% wetenskaplikes wat baie krities is oor hierdie bevindinge en wat oortuig is dat dit natuurlike siklusse van verhitting en afkoeling is wat ook nou in ons tyd afspeel.

As u meer oor die Keeling-kurwe wil lees, kan u hierdie webtuiste gebruik https://en.wikipedia.org/wiki/Keeling_Curve. NASA stel gereeld die metings van die konsentrasie koolstofdioksied in die lug vry. U kan hul nuutste vrystelling by hierdie skakel kry: https://climate.nasa.gov/vital-signs/carbon-dioxide/

Vrede vir julle en jul omgewings.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com

Scroll to top