2018 het begin en ….
dis ‘n heerlike droomryke jaar wat voorlê.
Dalk met ons waterkrisis en ons gedagtes op 67 plekke om alles aan die gang te kry kan ons vanoggend lees/leer/hoor om anders te kyk na ons lewensverhouding met God en wat dit vir ons besige skedules kan beteken. Ek lees die stuk raak die week van Stephan Joubert.
Daar’s ’n verskil tussen dringende mense en gejaagde mense, ook op die geloofsfront. Erwin McManus som die verskil goed op in sy boek: “The Last Arrow”:
“Passion is what fuels us; urgency is about how much it matters right now.”
- Gejaagde mense verstaan hulle lewe in terme van eindelose take wat vir die Here afgehandel moet word. Dringende mense word weer aangevuur vanuit ‘n diep innerlike oortuiging van hulle liefde vir die Here. Dankbaarheid teenoor Hom en nie plig nie, beweeg hulle tot liefdesdiens.
- Gejaagde mense se werk is nooit klaar nie. Daar’s altyd nog ‘n probleem, nog ‘n besoek, nog ‘n vergadering. Dringende mense weet egter hulle is in die Here se diens. Hulle dien Hom met ’n rustige dringendheid!
iii. Gejaagde mense rus eers nadat hulle vir die Here gewerk het, maar dringende mense dien Hom en ander vanuit hulle rus in God.
- Gejaagde mense werk vir die Here, maar dringende mense leef vir Hom. Hulle weet dit gebeur voltyds en lewenslank.
- Gejaagde mense sit opgeskeep met skuldgevoelens oor alles wat hulle nog moet doen. Dringende mense geniet baie vryheid in Christus. Hulle probeer nie om alles vir almal te wees nie. God se goedkeuring tel die meeste vir hulle.
- Gejaagde mense blink uit in beheer en kontrole om almal rondom hulle in die “boks” te hou en tot aksie aan te spoor. Dringende mense is verhouding-aangedrewe. Elke dag groei hulle nuwe verhoudings met God en ander.
Kom ons leef 2018 met DRINGENDHEID op God se stem.
Mooie jaar, Dewald