DIE NG KERK SPREEK HAAR UIT OOR KORRUPSIE

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie ‘n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

Die NG Kerk spreek haar kommer uit oor die hoë voorkoms van sistemiese korrupsie in  Suid-Afrika en ondersteun die anti-korrupsieveldtog in ekumeniese verband.

Die voorkoms van korrupsie het ’n nuwe hoogtepunt (laagtepunt!) bereik tydens die Covid-19-pandemie. Kennis is geneem van die grootskaalse plundering van fondse wat bestem was vir die bekamping van Covid-19 en die beweerde onreëlmatighede met tenderprosesse wat daarmee verband hou. Senior regeringsamptenare en verkose ampsbekleërs is na bewering hierby betrokke asook talle privaatmaatskappye. Fondse wat veronderstel was om lewens te red, is misbruik en het geen verligting gebring vir die kwesbaarste mense wat die ergste getref word deur die pandemie nie. Met elke bewering verminder die vertroue tussen die staat en landsburgers. Dit is ’n reuse-terugslag vir die land se integriteit en die bekamping van die ekonomiese impak van die pandemie.

Tans word 307 sake, waarby R300 miljoen betrokke is, ondersoek asook ’n verdere 658 twyfelagtige Covid-19-tenders wat sowat R5,08 miljard beloop. Die beweerde korrupsie waarna verwys word, sluit in die toekenning van kontrakte aan persone wat verbintenisse met regeringsamptenare het asook persone wat voorheen in die staatsdiens gewerk het. Miljarde rande wat vir maatskaplike dienste en menslike ontwikkeling bestem is, gaan verlore weens hierdie dade wat niks anders as diefstal van belastingbetalersgeld genoem kan word nie. Hierdie vlaag van korrupsie help geensins om vertroue in te boesem dat daar vorentoe eerlik omgegaan sal word met enige geld wat geskenk of toegewys word om die Covid-19-pandemie te help beveg of om finansiële verligting te bring vir diegene wat dit nodig het nie.

In reaksie op die diepgaande en landwye korrupsie het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) bekendgemaak dat hulle gedurende September ’n veldtog teen Covid-19-korrupsie gaan loods. Die SARK het besluit om die veldtog in September te hou omdat dit Erfenismaand is. “Korrupsie is nie deel van ons erfenis nie,” is die boodskap wat die SARK wil beklemtoon. Die veldtog is bekendgestel tydens ’n aanlyn-erediens op Sondag 30 Augustus. Verskeie webinare en massademonstrasies word beplan.

Die SARK, het ook saam met die Nelson Mandela-, Ahmed Kathrada- en die Desmond en Leah Tutu-stigting, ’n beroep gedoen op Suid-Afrikaners om op te tree teen korrupsie. Sterk verklarings is ook deur die Katolieke en Metodiste Kerke uitgereik. Die NG Kerk, as lid van die SARK, ondersteun die oproepe en aksies ten volle. Tydens ’n aanlyn-konferensie op 2 September met president Ramaphosa en ministers het verteenwoordigers van godsdienstige groeperinge daadwerklike optrede teen korrupsie geëis.

Alhoewel president Ramaphosa reeds herhaaldelik gewaarsku het dat diegene wat die wet oortree en hulleself verryk, vervolg sal word, oordeel die NG Kerk dat hierdie uitsprake nie genoegsaam is nie. Die NG Kerk doen vervolgens ’n beroep op die regering om:

  • voort te gaan met die onmiddellike skorsing, ondersoek, arrestasies en vervolging van die betrokkenes, ongeag wie hulle is;
  • doeltreffende meganismes vir tenderprosesse in te stel om verdere risiko’s te bekamp;
  • spesiale anti-korrupsie-taakspanne wat tenderbedrog ondersoek en oortreders vervolg, in die lewe te roep;
  • spesiale howe toe te wys om tenderbedrog te hanteer;
  • inligting oor die oortreders van tenderbedrog te publiseer en bekend te maak;
  • veilige ruimtes te verseker vir fluitjieblasers.

Die NG Kerk onderneem verder om:

  • haar lidmate aan te moedig om weerstand te bied teen die versoeking van korrupsie;
  • onvermoeid profetiese kritiek te lewer teen korrupsie en oneffektiewe metodes om korrupsie te vermy;
  • ekumeniese samewerking met ander kerke te soek met die oog op die monitering van getuienis teen korrupsie op plaaslike vlak;
  • etiese leierskap op elke vlak van die samelewing te bevorder deur bestaande inisiatiewe te ondersteun. Vanuit die Hugenote Kollege se Skool vir Goeie Regering in Afrika word nou ook ’n beweging, Integritas, met die oog op die herstel van die integriteit van plaaslike regerings geloods. Die beweging fokus op die bou van eerbare persoonlike waardes, skoon regering, en projekte waar die onderlinge verbondenheid in gemeenskappe versterk word rondom gedeelde waardes.
  • Dr Gustav Claassen is algemene sekretaris van die NG Kerk.
Scroll to top