“Daar is nie hoop nie.”

“Jy moet vir my hoop gee”, sê RSG radiopersoonlikheid, Amoré Bekker aan dr Francois Durand van die Departement Dierkunde aan die Universiteit van Johannesburg. “Daar is nie … Daar is nie hoop nie”, antwoord dr Durand.

Sy reguit antwoord het haar onkant en stomgeslaan. Sy pleit vir iets positiefs. Hy het nie so iets nie. Volgens hom is dit onvermydelik dat die temperatuur van die aarde te hoog gaan styg vir die mens om op die aarde te bly voortbestaan. Vir hom is die kans dat die mens gaan doen wat nodig is om die verhoging te verhoed, nul. Die skrif is aan die muur: uitwissing is onvermydelik ons voorland. Selfs al sou mense nou alles begin doen wat nodig is, is dié uitwissing steeds onkeerbaar. Die skade is reeds te groot en die omkeer daarvan onmoontlik. Die mens is kollektief soos ‘n pasiënt wat by ‘n dokter gehoor het dat jy net 10 jaar oor het om te leef. Die vraag is nie hoe ons die tien jaar kan verleng nie. Die vraag is hoe ons die laaste tien jaar van ons lewe gaan deurbring.

Aan die einde van die onderhoud op RSG Radio staan ek verslae en stomgeslaan.

Die feit is dat daar ‘n groeiende groep wetenskaplikes is wat soos dr Francois Durand dink. Ek sukkel met hierdie standpunt, want as dit waar is, beteken dit dat hierdie tragedie hom nog in my eie leeftyd kan afspeel. En dit het dieselfde effek op my gees as die slegte nuus by ‘n dokter dat jy terminaal siek is: skok en verlamming en ontkenning.

Wat maak ‘n mens met hierdie byna wrede eerlikheid van prof Durand? Hoe behoort ons daarop te reageer? Oorvereenvoudig kan ‘n mens sê dat daar twee reaksies moontlik is:

  1. Ek kan dink dat hy ‘n swartgallige wetenskaplike is wat ‘n minderheidsoortuiging verteenwoordig en ek verkies om diegene te glo wat meer positief oor die toekoms is.
  2. Sê nou prof Durand is reg? Dave Pepler, die ekoloog, het al ‘n hele ruk gelede dieselfde standpunt ingeneem. Miskien is dit strategies die beste om my op die slegste moontlikheid voor te berei. Dan kies ek om só te lewe dat ek ‘n skoon gewete het en dat ek nie eendag skuldig staan as een wat die krisis aangehelp het nie.

Persoonlik hou ek nie van opsie 1 nie – al is dit die maklikste van die twee. Dit lyk vir my na ‘n manier om verandering en verantwoordelikheid te ontduik. Een ding is seker: Of prof Durand reg is of verkeerd, maak nie regtig saak nie. Ons sit in elk geval met ‘n reuse-krisis op hande. En dit laat ons inderdaad voor die volgende keuse: Gaan ek só lewe dat ek die krisis groter maak of gaan ek só lewe dat ek die krisis help verklein?

Prof Durand se reguit en eerlike praat het my opnuut daarvan bewus gemaak dat die besluite wat ek vandag neem groot invloed kan hê op die toekoms. Wie in die tye wat ons leef die verkeerde keuses maak, moet hulself gereed maak vir ‘n gewete wat gevul is met skuld en verwyt en wroeging.

Eintlik kom dit neer op ‘n keuse tussen die lewe of die dood.

Amoré Bekker se onderhoud met prof Francois Durand kan hier as potgooi geluister word:  http://bit.ly/2oowXMq

Voorstel

Luister na prof Juaneé Cilliers by http://bit.ly/2mR9YJF. Sy dui daarin drie dinge aan wat ons almal kan doen wat ‘n groot positiewe verskil sal maak aan ons bydrae tot klimaatsverandering.

Kontak

David P Botha
dpbotha2@gmail.com

Scroll to top